Ook die maanlig gooi sy skaduwee
onder 'n boom wag die duister
verderop 'n heel woud
Daar is 'n moontlikheid om na die maan
te gaan, 'n leermoment, 'n kwessie
van met sterk vlerke slaan
Sweef op warm lug en die beste
daarvan hoop, vertroue in jou en in
die eie vliegbereik omhoog
Op die maan gekom, 'n toestand
van half loop en sweef, 'n rondte maak
van die ligte na die donker kant
Dit is kouer daar, maar die sterre
skyn meer en wag vele
ligjare ver om gesien te word